Oor Ons

Ons Aanbiddingsformaat

Om God te aanbid is nie om vermaak te word nie. Ons streef daarna om op dieselfde wyse te aanbid as die eerste Christene in die Nuwe Testament, stigtelik soos dit in God se Woord beskryf word. Van die begin af het God dit duidelik gemaak hoe Hy aanbid wil wees, en ons as sy getroue diensknegte, het nie die reg om die instruksies te wysig soos dit ons pas nie.

Jesus het gesê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in Gees en Waarheid aanbid." – Johannes 4:24

Om God in Waarheid te aanbid is, Om God volgens Sy Woord te aanbid, want Sy Woord is Waarheid (Johannes 17:17). Dus moet ons nie enige iets byvoeg wat nie in Sy Woord gevind word nie.

Net soos die gemeentes van die eerste eeu ongeveer 2000 jaar gelede gedoen het, kom die Gemeente van Christus ook vandag nog op die eerste dag van die week byeen om deel te neem aan die VYF STAPPE van aanbidding. Dit behels: die voorlees van die Skrifte, sang, gebed, preek, deelname aan die nagmaal, en daar word ook van die geleentheid gebruik gemaak om te gee, ooreenkomstig ons voorspoed.

Klik op enige item vir meer inligting

Die enigste musiek wat in ons erediens gebruik word, is a capella-sang. Dit is omdat die Nuwe Testament nêrens die gebruik van meganiese instrumente in aanbidding uitbeeld nie. Van die agt verwysings na ‘musiek’ in die aanbidding in die Nuwe Testament, noem geen een die gebruik van instrumente nie.

  • “En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg” (Mattheus 26:30)
  • “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing…” (Handelinge 16:25)
  • “…daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van U naam psalm sing.” (Romeine 15:9)
  • “…ek sal met die gees psalm sing. Maar ek sal ook met die verstand psalm sing.” (1 Korintiërs 14:15)
  • “…maar word met die Gees vervul. Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en psalm sing in julle hart tot eer van die Here,” (Efesiërs 5: 18-19)
  • “Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kolossense 3:16)
  • “…ek sal U naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal ek U prys.” (Hebreërs 2:12)
  • “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalm sing.” (Jakobus 5:13)

Daar is baie voorbeelde en instruksies hoe om te bid in die Nuwe Testament. Jesus wys ons hoe om te bid in Mattheus 6:5-15. Omdat Jesus ons tussenganger (1 Timotheüs 2:5) en hoëpriester is (Hebreërs 4: 14-16), moet ons gebed aan God geadresseer wees in die naam van Jesus (Johannes 16:23). In ons gebede moet ons dank en lof aan God gee. Ons kan ook vir ons behoeftes en die behoeftes van ander bid.

God het ons beveel om ander te leer van Sy Woord om sondaars te red (Mattheus 28:19-20). Die vroeë Christene het hulle toegewy aan lering (Handelinge 2:42). Volgens Romeine 10:17 word geloof verkry deur “gehoor, en gehoor is deur die Woord van God.”, en is dit net deur die studie van die Woord van God dat ons ander kan leer. Ons moet verhoed dat valse lering kan voorkom en slegs die Bybel as grondslag gebruik (1 Petrus 2:1-2; 2 Timotheüs 4:1-5).

God het Johannes beveel om aan die Gemeentes in Klein Asië te skryf en die briewe moes aan die Gemeentes voorgelees word. (Openbaring 2:1, 8, 12, 18. Ook 3:1, 7 &14). Paulus beveel om die skrifte onder die Gemeentes te versprei en dit voor te lees sodat hulle ook daardeur bemoedig mag word. (Kolossense 4:16)

Jesus het die nagmaal ingestel die aand wat Hy verraai was (1 Korintiërs 11:23-26). As Christene neem ons deel hieraan as na-gedagtenis van Sy dood. Dit bring ons tot herinnering van die opoffering van Sy liggaam en bloed aan die kruis vir ons sondes (Mattheus 26:26-28). Die Nagmaal bestaan uit twee elemente: Ongesuurde brood (brood sonder suurdeeg) en die vrug van die wingerd (druiwesap), wat ʼn simbool van Christus se liggaam en bloed onderskeidelik is (1 Korintiërs 10:16).

Net soos die Nuwe Testamentiese leerstelling, neem ons die Nagmaal op die eerste dag van die week, soos deur die eerste eeue se Christene gedoen was (Handeling 20:7).

Die teks sê nie spesifiek “elke eerste dag van die week” nie, maar net soos die gebod om die Sabbat te onderhou ’n eenvoudige opdrag was: “Onderhou die Sabbat” (Eksodus 20:8), wat deur die Jode verstaan is as die onderhouding van elke Sabbat, verstaan ons met dieselfde redenering dat dit verwys na elke eerste dag van die week.

In ondersteuning hiervan is die skrywe van gerespekteerde geskiedkundiges soos Neander en Eusebius as bewyse dat die vroeë Christene die Nagmaal op elke Sondag gebruik het.

Die gemeente verkry die noodsaaklike fondse om die gegewe werk te doen deur die Christene wat gee uit hulle welbehae. 1 Korintiërs 16:2 vertel ons wie moet gee: “elke een van ons”; wanneer ons moet gee: “op die eerste dag van die week”; en hoeveel om te gee: “namate sy voorspoed is”, maar “blymoedig”, want God het behae in so persoon (2 Korintiërs 9:7).

Ons Gemeente se Leierskap

Ouderlinge Pieter Gerber 082 900 1684 pietkoninggerber@gmail.com
Ouderlinge Vincent Singh 083 575 7432 vincentsnr1@gmail.com
Ouderlinge Hennie Theron 076 323 5900 hennie@kibogroup.co.za
Diakens Jacques Diamond 071 861 7700 jacques@ct3rsa.co.za